Friday, June 15, 2007

Grootmenswoorde

Eendag is 'n grootmenswoord

Vol vrae

En onduidelike bestemmings

Herinner my tog weer

waarheen ons oppad is?

Ek ken jou in hierdie dag

Soos jy die ritme van my siel leer ken

Soos die groot oseane wat tussen ons breek

Eendag is 'n raaiselwoord

Vol beloftes

En onvertelde verhale

herinner my altyd


Dat ons wel eendag daar sal wees.

Mandi Axmann, 2002



Dansende Ster

"one must still have chaos in oneself

to be able to give birth to a dancing star"

Goethe

Waar die dae

tot nagte opkrul

verby die oeroue

beendere van tyd

het jou beeld

verbygegly

vir altyd by my

in hierdie swart

rivier van sterre.

Mandi Axmann, 1994

In die Katedraal

Ek wou jou so graag verkeerd bewys.

Dat die lewe

feller is as die dood

maar jy het té veel geweet

van dit wat ek moes leer

en jou hand was klam en koud

onder die wit vlam van die kers

En Christus

het met gekleurde oë

na ons gestaar

en ek het so gewens

dat Hy kon praat.

Mandi Axmann, 1995

Vir More

Jy skryf vir my

'n reënboogvers

met pienk

gekalkte hande

sober en soepel

soos die mooiste

somersdag

sodat ek kan sien

dat trane

tog eendag

sondruppels word.

Mandi Axmann, 1996 Vir Franci

Saal 10

"If the doors of perception were cleansed, everything would appear as it is: infinite."

Wiliam Blake

Hy het soms gewens dat hy meer kon sien.

Meer as die roggelende motors,

die dik glasskuifdeure

die swart saalvloere -

Meer as die wit koue lywe

die glaspypies met gasmaskers

die staalbeddens met ysterrame -

Iewers

moes daar 'n roering wees

'n weggesteekte glimlag

of 'n stukkie

weghardloop wolkie

bo die vensterraam.

Mandi Axmann, 1995

Donkermaan

Iewers vind ons mekaar

in die donkermaan

waar die naguile huil

en die eggo's weeklaag.

Daar ken ons mekaar

soos 'n populier

die ritsel

van sy blare ken

Deel ons mekaar

soos die grond

deel word van die klip

Want wat jy woordloos vra

kan ek net ademloos antwoord.

Mandi Axmann, 1995

Rachaeltjie

Ek wens ek kon jou toevou

teen die reën

teen die koue

ons teen hulle wêreld

wit kapok.

Ek wens ek kon 'n miershoop bou

met die kaggels van my hande

die skadu's uit jou oë verdryf

teen die donker

teen die reën

ek en jy in wit kapok.

Ek wens ek kon my klere

warm met liefde

opbondel teen jou bors

en vir jou

die wit dood

van jou oë sterf.

Mandi Axmann, 1992