Friday, June 15, 2007

Grootmenswoorde

Eendag is 'n grootmenswoord

Vol vrae

En onduidelike bestemmings

Herinner my tog weer

waarheen ons oppad is?

Ek ken jou in hierdie dag

Soos jy die ritme van my siel leer ken

Soos die groot oseane wat tussen ons breek

Eendag is 'n raaiselwoord

Vol beloftes

En onvertelde verhale

herinner my altyd


Dat ons wel eendag daar sal wees.

Mandi Axmann, 2002



Dansende Ster

"one must still have chaos in oneself

to be able to give birth to a dancing star"

Goethe

Waar die dae

tot nagte opkrul

verby die oeroue

beendere van tyd

het jou beeld

verbygegly

vir altyd by my

in hierdie swart

rivier van sterre.

Mandi Axmann, 1994

In die Katedraal

Ek wou jou so graag verkeerd bewys.

Dat die lewe

feller is as die dood

maar jy het té veel geweet

van dit wat ek moes leer

en jou hand was klam en koud

onder die wit vlam van die kers

En Christus

het met gekleurde oë

na ons gestaar

en ek het so gewens

dat Hy kon praat.

Mandi Axmann, 1995

Vir More

Jy skryf vir my

'n reënboogvers

met pienk

gekalkte hande

sober en soepel

soos die mooiste

somersdag

sodat ek kan sien

dat trane

tog eendag

sondruppels word.

Mandi Axmann, 1996 Vir Franci

Saal 10

"If the doors of perception were cleansed, everything would appear as it is: infinite."

Wiliam Blake

Hy het soms gewens dat hy meer kon sien.

Meer as die roggelende motors,

die dik glasskuifdeure

die swart saalvloere -

Meer as die wit koue lywe

die glaspypies met gasmaskers

die staalbeddens met ysterrame -

Iewers

moes daar 'n roering wees

'n weggesteekte glimlag

of 'n stukkie

weghardloop wolkie

bo die vensterraam.

Mandi Axmann, 1995

Donkermaan

Iewers vind ons mekaar

in die donkermaan

waar die naguile huil

en die eggo's weeklaag.

Daar ken ons mekaar

soos 'n populier

die ritsel

van sy blare ken

Deel ons mekaar

soos die grond

deel word van die klip

Want wat jy woordloos vra

kan ek net ademloos antwoord.

Mandi Axmann, 1995

Rachaeltjie

Ek wens ek kon jou toevou
teen die reën
teen die koue
ons teen hulle wêreld
wit kapok.
Ek wens ek kon 'n miershoop bou
met die kaggels van my hande
die skadu's om jou mond verdryf
teen die donker
teen die reën
ek en jy in wit kapok.
Ek wens ek kon my klere
warm met liefde
opbondel teen jou bors
en vir jou
die wit dood
van jou oë sterf.
Mandi Axmann, 1992

Madame Butterfly

Gisteraand

het ek selfmoord

gepleeg.

Teen die wonde

van jou hande

Teen die skerp dolk

van jou buik

Teen die asyn-bloed

van jou mond

Vergewe my.

Ek kon nie anders

as om te sterf nie.

Mandi Axmann, 1994


Ariel

jy het verdwaal

tussen die bome en die wind

vasgestrengel aan die takke

vasgewoel tussen die blare

vasgeknoop in die oksels

vasgekneus deur die blomknoppe

en nou wortel jou siel

by die sterre uit

Mandi Axmann, 1994 Vir Stefan

Vriende

Dankie

dat jy my laat lag

met tergend blou oë

my aanvaar

en niks van my verwag

maar wilgerlat‑ontspanne

teen die bleekblou

knusheid van jou trui

tevrede

om my vriend te wees

Mandi Axmann, 1995, Vir Annalie

Die siel van 'n digter

Ek ken 'n liedjie,

verkieslik "off‑beat"

en met die son

teen my rug,

kan ek:

'n Bespikkelde paddastoel

maak van 'n papier‑maché

spaarvarkie;

'n Pienk pikkewyn

brei uit 'n teddiebeer;

'n Roomyskoek

bak uit die halwe resep

van 'n appeltert.

Die grootste

en verskriklikste stryd

was om dieselfde

as ander te sien.

Want kyk:

Daar glip 'n feëtjie

uit die inkpot!

Mandi Axmann, 1991

Dimensie

Die soutrivier glim rooi

met die son

wat gepers word

oor sy oewers.

'n Langnekwaterdier

verrys uit die spieël

van die rooi rivier.

Die aardeperlemoen

breek ligroos oop

en gril onder die wind

se vinger.

'n Waterdier

se bultende rugspier

word 'n eiland

vir wit voëls

in die bitterrooi rivier.

Stom slinger

die dier

sy lang nek wild

soos 'n grootgeraamte voël

wat lomp sy vlesige vlerke

wapper om op te styg

weg uit hierdie

tyd‑dimensie.

Mandi Axmann, 1989

Kamermusiek

Tenger tril

die eerste note

uit 'n koperbruin tjello.

Ons sit stil

op regop stoele.

Luisterend.

Die note

vleg sirkels

om my en jou.

Dit spiraal

word 'n skadu

'n stilte

tussen ons.

Koesterend;

Sensueel.

Ek snak.

Ervaar die hartstog

wat betowerend beloof.

Verstrak.

‑ jy is doof.

Mandi Axmann, 1989

Onvanpas

Jy span 'n sonsambreel

teen tyd

en balanseer 'n seebal

op jou toon

en suig 'n ronde suigstokkie

in jou sandkasteel

nonchalant

as die see diep slote

daaroor spoel.

Vasgevang

in 'n winter‑vierkant

van my

verlange.

Mandi Axmann, 1987

Doolhof

As jy iemand nodig het

sal ek saamgaan

terug na die halfskemer kronkels

die draaiende gange van jou lewe

want ek was ook al daar.

Ek herken die verbleikte klip

die stalagmiete van gestolde trane

die leë spiraaltrap

asof daar iemand was...

Ek sal verstaan.

Al eggo al jou wande

en is jou vloere glad

geëtter

van baie jare

se toemaak.

En al sou jou doolhof

my laat besef:

Ek ken jou nie.

Mandi Axmann, 1987

Tjernobijl

'n kind stap deur die woud

daar gloei rose op sy wang

met sy hand

het hy die sonlig vasgevang

'n kind huppel deur die woud

sterlig vonkel in sy oë

tussen wolkemassas van sy hare

dartel duisend reënboë

'n kind hardloop deur die woud

metaalvlinders spartel om sy hand

strome van onrustigheid

wat stomend in sy nek beland

'n kind vlug deur die woud

roettrane brand sy mond

uit sy ongerepte borskas

split 'n atoom‑wond...

'n kind val in die woud

wit blomme sterf op sy wang

met albei hande oopgesper

skiet die sonlig

uit

sy

palm

Mandi Axmann, 1986

Maanverduistering

Huil maar my kind

want hierdie nag

is week met herinnering

van hoe dit was

maar hoe dit kon wees

as die maan reg was.

Huil vir my ook

want my oë

staar sonder glinstering.

Die maan is weg ‑

en ek hou nog net

jou vinger vas.

Mandi Axmann, 1991 Vir Ma

Skildery

ragfyn en versigtig

hang hy drade van kleur

rondom die seun

met stil oë

roerende lippe

wat verby die raam

staar na iets groter

beter

wyer

daar buite

waar net die siel

kan

kyk

Mandi Axmann, 1994 Vir Francois

Woorde

Wat sê ek vir jou ?

Woorde buig kromgetrek

van jare se stilbly

van min oefening.

Hoe verwoord my worstelstryd

tot jou begrip ?

Jy is hier.

Die wonderwoord

het vlees geword

'n dwalende lig ‑

was dit jou gesig

jou hande

jou hare

dan vergestalt jy

die begrip.

Hoe antwoord ek jou ?

Vertel vir jou

die eenheid,

die volheid van 'n woord

en maak jou deel

van my

begrip ?

Mandi Axmann, 1994