'n kind stap deur die woud
daar gloei rose op sy wang
met sy hand
het hy die sonlig vasgevang
'n kind huppel deur die woud
sterlig vonkel in sy oë
tussen wolkemassas van sy hare
dartel duisend reënboë
'n kind hardloop deur die woud
metaalvlinders spartel om sy hand
strome van onrustigheid
wat stomend in sy nek beland
'n kind vlug deur die woud
roettrane brand sy mond
uit sy ongerepte borskas
split 'n atoom‑wond...
'n kind val in die woud
wit blomme sterf op sy wang
met albei hande oopgesper
skiet die sonlig
uit
sy
palm
Mandi Axmann, 1986
No comments:
Post a Comment