Friday, June 15, 2007

Doolhof

As jy iemand nodig het

sal ek saamgaan

terug na die halfskemer kronkels

die draaiende gange van jou lewe

want ek was ook al daar.

Ek herken die verbleikte klip

die stalagmiete van gestolde trane

die leë spiraaltrap

asof daar iemand was...

Ek sal verstaan.

Al eggo al jou wande

en is jou vloere glad

geëtter

van baie jare

se toemaak.

En al sou jou doolhof

my laat besef:

Ek ken jou nie.

Mandi Axmann, 1987

No comments: